Navrae Hier
Die Tuinroete

Die Tuinroete word tereg die Juweel van Suid-Afrika genoem. Die verruklike kombinasie van digte inheemse woude, kronkelende riviere, uitgestrekte mere, spierwit strande en majestueuse berge skep 'n ware simfonie van natuurlike skoonheid.  Grootbos Private Natuurreservaat is net 2 uur se ry vanaf Kaapstad – die ideale oase om jou Tuinroete-toer te begin of te eindig. Die enigste probleem is dat jy waarskynlik al jou tyd in Grootbos sal wil deurbring!

In en rondom Grootbos

'n Hanetreetjie van Grootbos Gansbaai, een van die wêreld se top-bestemmings vir duik-avonture met die omstrede Groot Withaai - ‘n ervaring van ‘n leeftyd! Die nabygeleë De Kelders en Walkerbaai is van die beste plekke in die wêreld om die Suidelike Noorkapper-walvisse van die land af te besigtig. In seisoentyd (Julie tot November) kom van hierdie elegante reuse tot teenaan die kus om met hul kleintjies te speel. Die skilderagtige Walvisroete vanaf Valsbaai na Gansbaai kronkel verby prentjiemooi kusdorpies soos Pringlebaai, Bettiesbaai, Kleinmond en Hermanus. Gekenmerk deur uitgestrekte wit strande, asemrowende sandduine en ’n magdom besienswaardighede, is elkeen beslis 'n besoek werd. Verder suid is die ongerepte Kaap Agulhas,  die plek waar die magtige Atlantiese en Indiese Oseaan aan die mees suidelike punt van Afrika ontmoet.

Hermanus

Aan die anderkant van Walkerbaai is die gewilde toeristedorp Hermanus, ewe bekend vir sy pragtige natuurskoon en landgebaseerde walviskyk-geleenthede. Omring deur berge, inheemse fynbos en veilige strande, is Hermanus ‘n ware lushof vir natuurliefhebbers. Die inwoners is die hart en siel van dié stranddorp en waarborg ‘n onvergeetlike vakansie-ervaring.

Knysna en Plettenbergbaai

Verder oos wink die skilderagtige Plettenbergbaai en Knysna - gunsteling-bestemmings op enige besoeker aan die Tuinroete se “moet sien”-lysie. Plettenbergbaai is bekend vir sy idilliese wit strande, die Robberg Natuurreservaat en talryke dolfyne. Knysna spog met ‘n helderblou strandmeer, oesters en inheemse woude waar daar volgens oorlewering nog ‘n eensame olifant ronddwaal.  Die N2 neem jou tot by Tsitsikamma met sy magdom ape en wye verskeidenheid van voëlspesies.  Nature’s Valley en die bekende Stormsrivier is ‘n toonbeeld van die prag van hierdie streek en ‘n paradys vir voetslaan, fietsry, riviervaarte en vele ander buitelug-avonture.

'n Pragtige Malaria-Vry Safari

Hoewel die meeste besoekers aan Suid-Afrika dink die Nasionale Kruger Wildtuin is die enigste plek om ons wêreldbekende grootwild te sien, is daar ook talle malaria-vry wildreservate op die Tuinroete waar die Groot Vyf van naderby besigtig kan word. Los die pille by die huis, bring die kinders, pak jou kakieklere in en betree die wildernis!  Die beste reservate is maklik bereikbaar per voertuig en is die perfekte manier om jou Tuinroete-avontuur te begin.