Navrae Hier
Grootbos-gidse se werk is hul passie
Grootbos se gespesialiseerde gidse het 'n gróót en 'n móói speelplek. Dis hul passie om dié idilliese reservaat met sy magdom plant- en dierspesies tussen berge en see op 'n kleurvolle manier aan gaste bekend te stel.
 
Wees eerlik : wie sal nie hou van 'n vroegoggendse 4x4-rit deur 'n paradys van seldsame proteas, ericas en ander wilde veldblom-spesies nie? Of om te voet die talle bergpaadjies uit te stap om die magiese Melkhout-woude en ongelooflike see-uitsigte vanaf die kruin te verken nie? Dan praat ons nie eens van die perd-ritte deur fynbos-landskappe en strandlangs wanneer die son die omgewing in 'n kaleidoskoop van kleure omskep nie.
 
G'n wonder hoofgids Kevin en sy span geesdriftige gidse sê reguit dis nie 'n werk nie - dis 'n passie wat hulle uitleef en daar's 'n rede hoekom hulle juis Grootbos gekies het vir dié doel! Waar elders kry 'n mens só 'n ongerepte en diverse botaniese reservaat van 2 500 hektaar waar die natuur sy beste bates tussen bergpieke en klowe kom wegsteek het? En dit nogal 'n hanetree van die see waar die skaars Groot Withaaie en Suidelike Noorkapper-walvisse jaarliks duisende toeriste vermaak?
 
Dis egter nie net sonskyn, suikerbossies en saffier nie - die gidse moet hul storie kén om die sowat 1 000 inheemse fynbosspesies en meer as 250 voëlspesies aan die gaste uit te wys en hulle in te lig daaroor. Voeg daarby 'n wye verskeidenheid van reptiele, rare soogdiertjies, vreemde slakke en goggas, en dis beslis nie 'n maklike taak nie!
 
Die gidse kom van verskillende agtergronde, kulture en provinsies en elkeen druk sy unieke stempel af op 'n Grootbos-uitstappie om dié belewenis so lewendig, opwindend en interessant as moontlik vir gaste te maak. Baie van hulle het ook hul opleiding ter plaatse deur die Grootbos Stigting se Green Futures opleidingsprogram ondergaan. Hulle is lief vir die natuur en dié omgewing wat hulle met trots, kwinkslae en insig aan gaste bekendstel. Die vreemde "nierslak" met sy harde, kalkagtige skulp wat onder die grond bly, word meer as net 'n slymerige skulpdier wanneer Bongani vertel watter rol dit in die ekologie speel. Clayton leer jou hoe om te "luister" na die fluisteringe van die eeu-oue melkhoutbome met hul knoets-stamme wat soos karikature uit 'n sprokiesboek lyk. Chumani wys jou waar die pragtige Oranjeborssuikerbekkie en die Kaapse Suikervoël die nektar van die verskillende protea- en erica-spesies met hul lang, skerp snawels uitsuig en waar die arende en jakkalsvoëls hoog in die lug sirkel op soek na prooi.
 
Die gidse ken die spore van die klipspringers en ander bok- en wildsoorte wat nog vryelik hier rondloop en 'n span navorsers is ook besig om te bepaal hoeveel berg-luiperds nog in die kranse skuil.
 
'n Grootbos-toer sluit ook besoeke aan omliggende plekke en besienswaardighede in soos die historiese Klipgat- en Drupkelder-grotte by De Kelders, bootvaarte na Dyer-eiland waar die Afrika-pikkewyn en verskeie ander voëlsoorte broei, asook bootreise om die Groot Vyf van die see te bekyk - dolfyne, walvisse, haaie, pikkewyne en robbe. 'n Toer deur 'n tipiese informele nedersetting soos Masakhane en 'n strandpiekniek om die asemrowende sonsondergange oor Walkerbaai te geniet, is ook op die Grootbos-spyskaart! Ons gidse is gereed en gerat om jou op 'n onvergeetlike toer deur een van die mooiste en mees ongerepte plekke in die wêreld te neem!
 
Hieronder vertel 'n paar van ons Grootbos-gidse 'n bietjie meer van hulself!
 
Kevin - Hoofgids
Kevin Hoofgids

Die verruklike Wes-Kaapse natuurskoon het my bekoor vandat ek op Grootbos aangekom het. Ek was my lewe lank 'n bosveldmens en van my vroegste herinneringe is van staptogte deur die Drakensberge saam met my broers. Ek was dus baie opgewonde om 'n ander deel van die land te leer ken. My liefde vir diere - kleintjies én grotes - het my in die Nasionale Kruger Wildtuin laat beland waar ek my belangstelling in die wildlewe begin ontgin het. Die ongelooflike avonture wat ek as 'n leerling-gids beleef het, het my 12 jaar lank in die bos gehou - van die Kruger Wildtuin na Botswana en terug en die laaste jare as gids by Singita in die Sabi-Sand Wildreservaat. Hier het ek ook my vaardighede as bestuurder geslyp en twee jaar lank saam met my vrou die Singita Castleton-kamp bestuur. Dit was 'n welkome verandering om die vlaktes vol lang, bruin gras te verruil vir die relatief plat fynbosvelde. Die Walkerbaai-gebied met sy diverse natuurwonders - van walvisse en haaie tot skilderagtige Afro-montane-woude en fynbosblomme - sal my beslis nog jare lank bekoor en inspireer.  

 

Chumani
Chumani

Ek is Chumani Nyelisi, 'n boorling van die Oos-Kaap waar ek as veldwagter my pa se beeste opgepas het. In die veld leer jy om te oorleef en my familie het dus lankal geleer hoe om plante as 'n voedingsbron sowel as vir medisinale doeleindes te gebruik. My liefde en passie vir plante is dus al in my kinderjare op my geboortedorp gevestig. Ek het in Maart 2006 in Gansbaai aangekom en binne 'n paar maande van die Green Futures Kollege op Grootbos gehoor. Kort nadat ek aansoek gedoen het, is ek gekies as een van die 12 studente wat in Augustus daardie jaar met hul opleiding begin het. Ek was so opgewonde dat ek besluit het om permanent Gansbaai toe te verhuis. Nadat ek die kursus voltooi het, was dit my droom om 'n gids te word. Vir my was dit die ideale beroep om my passie vir die natuur met mense te deel en hulle te vertel van my kinderjare as veldwagter en hulle in te lig oor ons kosbare blom-koninkryk. Die geleenthede en leiding wat die kollege my gegee het om my droom te bewaarheid, is ongelooflik. Ek geniet die botaniese toere op Grootbos en om my kennis van plante en die Afrika-kultuur met gaste te deel.

 

Clayton
Clayton

My naam is Clayton Niemand. Ek het 'n voorliefde vir die natuur- en mariene-lewe ontwikkel en dit lyk nou of die voorsienigheid bepaal het dat ek by die natuur betrokke moet bly. Ek het as 'n stadsjapie in Kaapstad grootgeword en het dus nooit juis met die natuur in aanraking gekom nie. Dit was eers toe ek in die hoërskool in 'n koshuis op Napier beland en nuwe vakke soos Toerisme leer ken het, dat ek geleidelik 'n liefde vir die natuur ontwikkel het. Ná matriek het ek 'n jaar lank afgevat om te besluit wat ek wil studeer. In dié tyd het ek 'n intensiewe veldgids-kursus gevolg en ek moes die praktiese opleiding op Grootbos voltooi. Nadat ek die kursus geslaag het, het ek gehoor daar is 'n geleentheid vir 'n gids op Grootbos beskikbaar. Ek het die kans dadelik aangegryp en vandag is ek steeds hier. Ek hou daarvan om gaste oor aspekte van die natuur in te lig wat hulle kan onthou en toepas wanneer hulle in die ongerepte buitelewe is.

 

Anecke
Anecke
My naam is Anecke Valentine en ek is een van die gidse hier op Grootbos Private Natuurreservaat. Ek woon my lewe lank al op Gansbaai. Ná my matriekjaar in 2004 wou ek aanvanklik 'n skoonheidsterapeut word, maar dit het nie uitgewerk nie. Ek het toe besluit om my basiese lewensvaardighede te verbeter en het 'n rekenaargeletterdheidskursus voltooi om my kanse te verbeter om 'n goeie werk te kry. In 2009 het ek gehoor van die Green Futures Kollege op Grootbos. Ek het aansoek gedoen en was gelukkig om een van die studente te wees wat gekies is vir daardie jaar se inname. Ek het die kursus met trots voltooi. Ons het baie pret gehad, maar ek moes ook hard werk! Die hoogtepunt van die jaar was toe ek gekies is as een van die top-studente wat jaarliks aan die Eden-projek in Cornwall, Engeland, gaan deelneem. Ek het drie weke daar deurgebring en geweldig baie geleer. Dit was ook 'n heerlike ervaring om te sien hoe alles daar van Suid-Afrika verskil. Ek is nou 'n volwaardige gids op Grootbos en geniet elke oomblik. Wat dié werk besonders maak, is dat ek leer om goed Engels te praat, mense van regoor die wêreld ontmoet en elke dag in die natuur kan wees!
 

Bongani
Bongani

My naam is Bongani en ek is in King William's Town in die Oos-Kaap gebore. In 2004 het ek na die Wes-Kaap gekom om my skoolloopbaan te voltooi. Ná matriek het ek gehoor van die Grootbos Green Futures Kollege - dat ek daar dalk 'n geleentheid kan kry om my studies voort te sit en moontlik selfs 'n werk te kry. Ek het gemeen dis 'n kans van 'n leeftyd en was gelukkig om gekeur te word vir die 2009-klas. Gedurende my jaar lange kursus by Green Futures het ek alles geleer oor die verskillende fynbosspesies en die belangrikheid en kosbaarheid van ons blom-koninkryk. Ek het ook geleer om 'n voertuig te bestuur en opleiding in rekenaargeletterdheid en lewensvaardighede gekry. Nadat ek my kursus aan die einde van 2009 voltooi het, het ek by die Grootbos-gidsspan aangesluit en vier maande lank as 'n leerling-gids gewerk. In dié tyd het ek al hoe liewer vir die Kaapse fynbos en my werk as gids geword en ek het elke dag iets nuuts geleer. Teen Junie 2010 is ek bevorder tot senior gids en sedertdien lewe ek my droom en volg ek my passie. Ek hou daarvan om met mense te meng en my kennis van die fynbos en ons ekosisteem met hulle te deel. Die fynbos fassineer my regtig omdat dit so uniek is en daar soveel stories in dié plantlewe opgesluit is. Ek is gek daaroor om dié stories tydens ons uitstappies met gaste te deel en die verbasing op hul gesigte te sien! Ek is baie trots op wat ek bereik het om binne twee jaar van 'n gewone leerder met 'n matrieksertifikaat te vorder tot 'n gespesialiseerde fynbos-gids en ek vertel dié verhaal ook graag aan ons gaste. Dit is ek in 'n neutedop. Ek kan nie wag om jou as gids op Grootbos te begelei en my lewensverhaal en die kleurryke stories van ons verruklike fynbosplante met jou te deel nie!

 

Christoff
Christoff

Om 'n gids te wees is nie 'n werk vir my nie, maar 'n leefwyse. My naam is Christoff Longland en ek is dol oor my werk. My familie is almal natuurliefhebbers en ek was maar altyd 'n buitelugmens. Ek het juis Landbou studeer om nie in 'n kantoor te sit nie. Ná my studies het ek oral in die Verenigde Koninkryk gewerk, maar my hart was steeds in sonnige Suid-Afrika. Toe ek oplaas terugkeer na my hartland, was ek lus om my stokperdjie as natuurkenner en -ondersoeker op die proef te stel. Ek het 'n geleentheid gekry om as toergids in Afrika te werk - van die Victoria-watervalle in Zimbabwe deur Namibië tot in Botswana. Dit was 'n heerlike avontuur, maar ek het besef dat ek nie genoeg kennis van die bedryf het nie en dit sal moet studeer. Ek was gelukkig om in 2005 'n geleentheid op Grootbos te kry en dis hier waar ek besef het dat ek 'n passie vir gidswerk het. Sedert ek by Grootbos begin werk het, het ek my bekwaam as senior gids vir Groot Vyf-wildtoere en ook ander veldgidskwalifikasies verwerf. Ek is ook in daardie tyd getroud en ek en my vrou het selfs 'n paar jaar lank as onderwysers in die Oekraïne gaan werk. Die roepstem van die bos was egter weer te sterk en hier is ek terug op die pragtige Grootbos. Grootbos is 'n magiese plek van immer-veranderende skoonheid - van die blomme en voëls tot die manjifieke walvisse wat jaarliks hul epiese reis na Walkerbaai onderneem. Dit is hoekom dit vir my so salig is om as gids op Grootbos te werk. Hulle sê mos as Afrika eers in jou bloed is, keer jy altyd weer terug!