Navrae Hier
Grootbos verwelkom kinders en hul gesinne!

Om die wêreld deur 'n kind se oë te sien, is  'n gawe wat 'n mens nooit moet verloor nie. By Grootbos word spesiale moeite gedoen om kinders se verbeelding vrye teuels te gee op 'n speelse, leersame en kreatiewe wyse. Die oord met sy magdom plant- en dierespesies skep 'n wonderlike avontuurreis vir kinders waar die storieboek-prentjies van diere en plante lewendig word in 'n pragtige, ongerepte omgewing.

 
Ons gewilde kinderprogram is daarop gemik om die kleingoed heeldag te vermaak met 'n kombinasie van opvoedkundige pretspeletjies en leersame, opwindende aktiwiteite om te verseker hulle geniet die tydjie by ons. 
 
Kleingoed se eie Kombuis:

'n Spesiale Kinderspyskaart met liplekker-disse verseker dat die kleingoed ook lekker en gesond eet, terwyl lekkernye en verversings deur die dag verskaf word om die hongerpyne weg te hou. 'n Slaaptyd-program sluit die dag se bedrywighede op 'n hoë noot af en sorg dat die kleinspan 'n goeie nagrus geniet en uitgerus is vir die volgende dag se avonture.

Skattejag:

'n Opwindende uitstappie en skattejag in die sprokiesagtige Melkhoutwoud is een van die hoogtepunte op die kinderprogram. Grootbos se spesialis-gidse vergesel die kleinspan op die skattejag-ekspedisies en maak hulle touwys oor die wye verskeidenheid van voëls, goggas en plante wat in die woude leef.

Die digte Melkhoutbosse huisves verskeie inheemse voëls soos die Geelbekbosduif, die Bandkeelkleinjantjie en die Kaapse Bosbontrokkie, terwyl die spore van bokkies, ystervarke en molle oral op die grond gesien kan word. Die skattejag duur sowat 45 minute en is gewild by kinders van alle ouderdomme.
 
Veilige Speelterrein met toesig:
Die speelterrein langs die perdestalle is enige kind se droom en baie ouers kry hul kinders net gedurende etenstye te sien! Die kleinspan kan vryelik in die natuur baljaar en die omgewing verken. Daar is mak, wollerige konyne, die troetelvark Emma, eende en ponies en soms ook vulletjies om mee te speel. 
Die kleingoed is dol daaroor om soggens hul eie ontbyt-eiers uit die neste van ons werfhoenders te gaan haal of om die perde te voer met vars groente en blare uit ons eie groentetuin. Een van ons gespesialiseerde gidse is altyd aan diens by die speelterrein om 'n ogie te hou.