Navrae Hier

'n Vaart op 'n walviskyk-boot in Gansbaai is vet pret en 'n GROOTSE lewende skouspel! Kom kyk hoe skole walvisse en dolfyne uitbundig baljaar en bokspring in die branders en toeskouers vermaak met ontsagwekkende vertonings! Of hoe 'n Groot Withaai sy prooi jag en gryp in 'n bloedstollende gestoei en gespartel 'n hanetreetjie van jou af!

Hierdie boeiende maagdraai-ervarings wag op gaste van Grootbos Private Natuurreservaat wat op een van ons walviskyk-bootvaarte in samewerking met Dyer Island Cruises gaan. Die boot met die gepaste naam Whale Whisperer vertrek elke oggend vanaf die Kleinbaai-hawe om die Suidelike Noorkapper-walvisse en die ander lede van die see se Groot Vyf te gaan soek.
 

Haaie, robbe en pikkewyne vir Afrika!

Die nou strook tussen Dyer-eiland en Geyser Rock, ook bekend as Shark Alley (haai-stegie) wemel van die haaie, robbe en pikkewyne. Dié bewaringsgebied en broeiplek van die skaars Brilpikkewyn en Kaapse pelsrobbe is soos 'n kitskosrestaurant vir die Groot Withaaie. Dit is een van die beste plekke in die wêreld vir haaihokduik en 'n mens kan daarop staatmaak om feitlik enige tyd van die dag of nag 'n paar van dié elegante roofdiere naby die boot te sien. Die duisende Kaapse pelsrobbe wat op Geyser Rock broei, is die stapelvoedsel van die Groot Withaai.

Die bote skrik nie die haaie af nie - hulle swem nuuskierig tot teenaan die boot om die mense van naderby te bekyk. Om op 'n kort afstand te sien hoe 'n haai etlike meters uit die water spring om sy rob-prooi te gryp, is 'n hoendervel-belewenis! Die groot aantal Brilpikkewyne en ander bedreigde voëlspesies soos die trekduiker, kelpmeeu, geelbeksterretjie en Swart Tobie wat op die voëlreservaat op Dyer-eiland broei, is 'n wonderlike gesig om te aanskou.
 

Dolfyne en walvisse

In die oop see tussen Pearly Beach en Walkerbaai kan skole bottelneus-dolfyne soms gesien word waar hulle spelerig om die boeg van 'n boot bokspring en duik. Om dié vrolike en mensliewende soogdiere so sorgvry en uitgelate te sien baljaar, is enige seeliefhebber se droom! Tussen Julie en November oorheers die reusagtige Suidelike Noorkapper-walvisse egter die Gansbaai-kuslyn met hul skouspelagtige stertpronk- en springvertonings. Dié reuse-diere is ewe nuuskierig en kom dikwels tot teenaan die bote. Dis 'n ongelooflike ervaring om te sien hoe 'n walviskoei en -bul met hul kleintjies speel.

Kom leer meer oor diť pragdiere van die oseaan

Die spesiaal-ontwerpte Whale Whisperer het 'n gerieflike bo-dek en toiletgeriewe en kan met gemak 20 passasiers huisves. Ingeligte gidse lewer deurlopend interessante kommentaar oor elke aspek van die diere en die omgewing. Het jy geweet sommige suidelike noorkappers is so groot soos 'n bus en kan tot 50 voet lank word en tot 70 ton weeg? Hulle eet net soö-plankton en mikro-organismes en die mens en die moordvis (Orca) is hul enigste vyande. Kom kyk, geniet en leer meer oor dié sagmoedige reuse van die oseaan!