Navrae Hier

Vrees of fantasie?

Watter kleur is 'n haai se oë? Is haaie kleurblind? Kommunikeer hulle met klank? Kom vind dié dinge sélf uit in die wêreld se bekendste haaihokduik-bestemming en tuiste van die omstrede Groot Withaai. Grootbos bied gaste 'n onvergeetlike 3-in-1-avontuurpakket om dié gevreesde roofdiere van naderby te bekyk - vanaf 'n boot, staalhok of uit die lug! 
 

Haai, dis 'n haai!

Om 'n Groot Withaai van 4 m binne reikafstand by jou te sien verbyswem, is 'n ongelooflike gesig en 'n adrenalien-inspuiting soos min! Die Gansbaai-kuslyn is waarskynlik een van die die beste plekke ter wêreld om tientalle van dié elegante roofdiere in 'n relatief klein gebied aan te tref. Of jy hulle nou bloot vanaf die veiligheid van 'n boot of vliegtuig wil bekyk, of 'n meer intieme kennismaking vanuit 'n haaihok verkies, een ding is seker: dìs die tipe belewenis wat 'n mens lewenslank onthou om eendag aan jou kleinkinders te vertel!
 

Boeiend vanaf 'n Boot

Grootbos, in samewerking met Marine Dynamics, neem gaste op 'n boeiende bootvaart na die wêreldbekende Haai-stegie (Shark Alley) tussen Dyer-eiland en Geyser Rock waar die broeikolonies Kaapse pelsrobbe letterlik 'n kitskosrestaurant vir die Withaaie skep. Die robbe is een van die haaie se vernaamste natuurlike prooie en derhalwe is daar feitlik altyd haaie in dié omgewing. Om 'n Groot Withaai tot 2 m uit die water te sien spring in 'n verbysterende aanval op sy prooi, is 'n ware giljil-oomblik wat jou vasgenael op jou tone sal hou. Dis amper ondenkbaar dat baie van die robbe ontvlug en die jagtog oorleef danksy hul ratse swenk-bewegings. Die haaie is nuuskierig en swem dikwels tot teenaan of onderdeur die bote om die vreemde indringers van nader te bekyk.

Van aangesig tot aangesig

Die waagmoedige avonturiers wat 'n uiterste bloedstoller-ervaring soek, kan in die staalhok afsak vir 'n meer intieme kennismaking met dié briljante jagters van die oseaan. Geen vorige duikervaring is nodig nie en alle toerusting word aan boord verskaf. Die spesiale staalhokke is baie veilig en dryf gedeeltelik bo die water. Duikers is nooit meer as 1 meter onder die wateroppervlak nie. Sodra die haai(e) om die boot begin sirkel, sak die duikers af in die hok om oogkontak te maak. Nou kan jy sien dat hulle geen ooglede het nie en ook geen geluide maak nie. Hul vaartbelynde lywe wat tot 2 000 kg weeg, is donkergrys aan die bokant en spierwit aan die maagkant om hulle minder opsigtelik vir hul prooi te maak. Duikers kry gemiddeld 4 tot 5 haaie te sien tydens 'n bootvaart, maar in ideale see- en weerstoestande is tot 18 op 'n slag al teengekom. Ons spesialis-gidse verskaf deurentyd interessante en feitelike inligting en kommentaar. 

Uit die lug

Grootbos bied ook spesiale vlugte aan in samewerking met African Wings vir diegene wat die haaie en ander lede van die see se Groot Vyf uit die lug wil beskou. Die panoramiese uitsig oor die uitgestrekte see-landskap, omring deur fynbos-bedekte berge en ongerepte wit strande, is asemrowend mooi. 
 
Kom gee uiting aan jou avontuurlus en ontmoet die mees omstrede seedier - jy mag dalk net aangenaam verras word! Grootbos bied die idilliese kombinasie van vyfster-verblyf en gerief en maagdraai-opwinding in 'n ongerepte natuurparadys. 
 
* Geen vooraf-besprekings is nodig nie, behalwe vir die lugbesigtigingsvlugte. Die beste begeleide toere ter wêreld om die grootwild van die see van naby te sien, is deel van die Grootbos-ervaring!