Navrae Hier

Saal op vir salige veld- en strandritte in die ongerepte natuur

Min dinge gee 'n mens so 'n gevoel van ongebonde vryheid as om te perd deur ongerepte veldblom-velde of langs uitgestrekte strande te draf of galop.

Grootbos Private Natuurreservaat bied aan gaste verskeie perdry-geleenthede langs van die mooiste roetes in die land. Die oord het sy eie stalle waar 22 perde, ponies en vulletjies bedags vry in die natuur rondloop. Agt van die perde en 3 ponies is spesiaal opgelei om ruiters van alle vlakke van ervaring op onvergeetlike ritte te neem. Gaste kan kies tussen rustige perdry-uitstappies op die reservaat van 2 500 hektaar, of meer opwindende avontuurritte langs die uitgestrekte strand van Die Plaat in Walkerbaai. Al die roetes bied asemrowende uitsigte oor die Duynefontein-berge en die pragtige kuslyn waar dolfyne, walvisse en robbe in die branders baljaar.

Ons professionele instrukteurs vergesel alle ruiters op die verskillende uitstappies. Of jy net rustig deur die kleurvolle fynbos-velde wil stap en die vars berg- en seelug inasem, of 'n vinnige galop op die strand verkies - daar is roetes en ritte om van te kies en te keur. Spesiale ritte en pieknieks om die verruklike sonsondergange oor Walkerbaai te vier, kan ook gereël word.

Kom verken dié pragtige wêreld met sy ryk en unieke plant- en dierelewe waar die natuur nog die septer swaai vanaf 'n perd se rug - dis 'n onbeskryflike ervaring!  

* Kinders onder 12 moet deur 'n volwassene vergesel word op die ponieritte. Die strandritte duur sowat 3 uur en is slegs vir ervare ruiters. Dit is nie ingesluit by die gewone Grootbos-aktiwiteite nie.