Navrae Hier

Gee jou drome vlerke . . .

Grootbos-gaste kan die unieke natuurskoon en panoramiese landskappe van die Gansbaai-kuslyn ook uit 'n ander oogpunt bewonder. Kom geniet ’n arendsvlug saam met Grootbos en African Wings en kyk vanuit die lug hoe walvisse, dolfyne, robbe en haaie in die water baljaar. Tussen Julie en Desember neem die Suidelike Noorkapper-walvisse dié kuslyn op horings wanneer tot 140 van hulle na Walkerbaai trek om te paar, geboorte te skenk en hul kleintjies te vertroetel. Die see wemel ook van visse en pelagiese seevoëls wat hier gedy.

Arendsblik

'n Uitsig-vlug saam met Grootbos en African Wings gee jou drome vlerke om die vryheid van die lug en 'n arendsblik van die magtige oseaan met sy skatkis vol geheime te ervaar!

Vlieg soos ín arend

Die uitsig vanuit die lug oor majestueuse bergreekse, fynbosvlaktes en ongerepte, wit strande is 'n verruklike gesig. 
Kom verken dié ongerepte Eden met sy ryk see- en plantlewe waar die natuur kwistig met sy verfkwas te werk gaan om 'n landskap van onoortreflike kleurkontraste en skoonheid op te tower. Die wyer oorsig vanuit die lug bied ook 'n asemrowende blik op omliggende landerye, wingerde, skeepswrakke en skilderagtige kusdorpies aan die suidelike voet van Afrika.