Navrae Hier

Weergalose skoonheid

'n Sonsondergang oor die see of berge bly maar een van die mees verruklike natuurverskynsels wat elke mens se siel aanraak. Die verstommende kleurespel waarmee die son se laaste strale die see, kranse en velde in 'n ewig-veranderende towerlandskap omskep, is een van die dinge wat Grootbos-gaste daagliks in vervoering het.

Panoramiese vergesigte

Die Grootbos Natuurreservaat se ligging teen die hange van die Duynefontein-berge bied idilliese panoramiese vergesigte van veldblom-bedekte heuwellandskappe en die hele Walkerbaai-kuslyn tot so ver as Valsbaai op die horison. 'n Mens sal ver moet soek na 'n plek wat die asemrowende sonsondergange oor dié baai ewenaar. 

Herroep in jou geestesoog wuiwende vlaktes vol helderkleurige veldblomme wat wieg in die vars seebries terwyl 'n bloedrooi son halflyf in die see hang en die water en lug in 'n kaleidoskoop van kleure tooi. Die kranse, klowe en uitgestrekte wit strand wat Walkerbaai omvou, bied wonderlike uitsigpunte om dié skouspel te bewonder. 
 

Kleure-skouspel

Grootbos-gaste kan die ongelooflike uitsigte van elke hoek en draai op die oord geniet, of ons spesialis-gidse vergesel op 'n verskeidenheid uitstappies - te voet, te perd of per 4x4-voertuig - om die pragtonele in te drink. 'n Piekniek of perdrit op die strand terwyl die son oor Walkerbaai sak, is 'n onvergeetlike belewenis. Tussen Julie en November wemel die baai van Suidelike Noorkapper-walvisse wat tot teenaan die kuslyn met hul kleintjies speel.

Kom ontspan met 'n glasie wyn uit Grootbos se eie kelder en verwonder jou aan die weergalose skoonheid van die ongerepte natuur!

Skilderagtige Roete

Grootbos is net 2 uur se reis vanaf Kaapstad en 20 minute van Hermanus op pad na die bekende Tuinroete. Die skilderagtige kusroete neem jou langs pragtige kusdorpies soos Rooi-Els, Pringlebaai, Bettiesbaai en Kleinmond in die hartjie van die Kaapse Blommeryk. Kom verken dié onaangeraakte paradys en ontspan in vyfster-weelde en gerief in 'n oase waar seldsame diere, voëls en plante die natuur se eie ongeëwenaarde dekor verskaf.