Navrae Hier

'n Gevleuelde oorsig van die voŽllewe op Grootbos

Grootbos Voels

Voëlkyk is baie soos sterrekyk. In wolklose toestande sien jy duisende van dié flikkerende en flonkerende juweeltjies in die lug en as jy eers weet wáár en waarvóór om te soek, is jy verstom oor die eteriese skoonheid en orde in hul ewige gang.

Grootbos Natuurreservaat en die omliggende gebied is 'n magiese trekpleister vir 'n wye verskeidenheid van skaars en endemiese voëlspesies wat hier in die diverse habitats broei en gedy. Jy wéét die vere maak die voël wanneer jy die helderkleurige jangroentjie met sy skittergroen-veredos sien rond-hop tussen die ewe kleurryke aalwyn- en protea-spesies.
 

Vry soos ín voŽl

Grootbos Voels

Grootbos is 'n voëlvriendelike oord wat deur Birdlife Suid-Afrika onderskryf word. Ons spesialis-gidse is gerat en gereed om voëlkenners én leke 'n gevleuelde oorsig te gee van dié vrolike ventjies wat ons lug en velde verfraai met hul skoonheid en amoreuse bedrywighede.

Kom ons wees eerlik - die skouspelagtige blomtapyt van fynbos-veldblomme op Grootbos is nie net daar om gaste te verruk nie - die eksotiese kleurespel van blomblare is die natuur se toorkuns om voëls en ander plantbestuiwers na die soet nektar in die blomkelke te lok in ruil daarvoor dat hulle die stuifmeel versprei.

Die lang, krom snawels van die opvallende oranjeborssuikerbekkie en die suidelike dubbelrooiband-suikerbekkie is handskoenpas ontwerp om die soetigheid by te kom in die blombuise van die erica-spesies. Jy kan nie die Kaapse suikervoël-mannetjie met sy verspotte lang stert (70% van sy totale lengte) miskyk waar dit nektar soek in die bont blomblare van die protea-spesies nie. Die indrukwekkende stert is 'n blote pronkstuk en bewys van manlikheid - hoe langer hoe beter! Hulle klap ook kordaat die stert om wyfies te lok en mededingers af te skrik.

In broeiseisoen (September tot April) wemel die Grootbos-oord van dié vriendelike, geveerde vriende wat oral saamkloek hoewel hulle nie eens voëls van eenderse vere is nie! Die diverse habitats - van fynbos, Melkhout- en Afromontane-woude tot vleilande en bergstrome - huisves minstens 120 verskillende voëlspesies, waarvan 30% net in suidelike Afrika voorkom. Dit sluit in die Knysna Houtkapper, Kaapse Hoëveld-klappertjie en die grysbors-tjagra.

Om ín voŽltjie te hoor fluit

Grootbos Roofvoel

Hulle sê elke voël sing soos hy gebek is, en as ’n mens in Grootbos se fynbos-velde stap, kan jy duidelik die kenmerkende geroep van die verskillende voëlspesies onderskei. Die kliek-kliek-roep van die Afrikaanse sperwer herinner aan die gekabbel van water oor rivierklippies, terwyl die Gewone Willie se eentonige geroep in die volksmond glo klink of hy sê: “Willie! Willieee . . .  kom uit en speel toeeee . . . ” Die diederikkie is ook genoem na sy kenmerkende geroep “died-died-diederik”.        

Pronk-roofvoëls van die omgewing is die majestueuse swartvleivalk, witkruisvleivalk, jakkalsvoël, bergjakkalsvoël en die visarend. Op die omliggende plase sal jy ook die bloukraanvoël, Overberg-langbek-lewerik en die veldpou aantref.
 

VoŽlkyk-toere langs die kus

Grootbos voels by die kus

Grootbos bied ook, in samewerking met Dyer Island Cruises, 'n gewilde "seewildkyk-bootvaart" na Dyer-eiland aan waar rare endemiese spesies soos die Swart Tobie, Brilpikkewyn, Hartlaubse meeu, gekroonde, Kaapse en bank-visvanger en die Witmalgas floreer. Pelagiese spesies soos die Bloubek-albatros, Bruinpylstormvoël en ander groot stormvoëls kan ook soms hier gesien word.

Kom verken die skoonheid van dié gevleuelde sierade van die Overberg. Ons inligtingsentrum bevat 'n groot verskeidenheid voëlliteratuur en multi-mediabronne. 'n Omvattende voëlgids met 'n kontrolelys is ook beskikbaar vir alle voëlkykers.