Navrae Hier

Walviskyk

Grootbos Private Natuurreservaat bied sy gaste van die beste walviskyk-geleenthede ter wêreld - van die land, see en lug! Hier kan jy die seldsame Suidelike Noorkapper-walvisse van die talle uitsigpunte op land, vanaf 'n boot of selfs uit 'n vliegtuig bekyk! Die verskillende walviskyk-toere is deel van die Grootbos-ervaring en geen vooraf-reëlings of besprekings is nodig nie.

Walviskyk-toere op land

walvis vanaf land
Van die sowat 350 walvisse wat jaarliks die suidkus van Afrika besoek, kom maak tot 160 hulle tuis in die beskutte baaitjies van Walkerbaai. Die rotse en wandelpaadjies by De Kelders bied ongelooflike uitsigte oor die baai en is van die beste walviskyk-bestemmings ter wêreld. Tussen Julie en Desember wemel die Gansbaai-kuslyn van Suidelike Noorkapper-walvisse wanneer dié reuse-diere van tot 60 ton al die pad van Antarktika af hierheen trek om in die warmer water te paar, baar en hul kleintjies te vertroetel en touwys te maak. Om te kyk hoe die elegante reuse uit die water spring, stertklap en stertpronk, is 'n onvergeetlike ervaring! Ons spesialis-gidse weet waar die beste uitkykpunte is en vergesel gaste op 'n walviskyk-toer van 'n leeftyd. Kom verwonder jou aan die treffende gesig wanneer die walviskoeie en -bulle 'n hanetreetjie van die kuslyn af met hul kleintjies baljaar! 
 

Walviskyk-toere per boot

Grootbos bied 'n eksklusiewe walviskyk-bootvaart aan in samewerking met Dyer Island Cruises vir gaste wat dié sagmoedige reuse van naderby in hul eie speelveld wil bekyk. Die boot vaar elke oggend vanaf die Kleinbaai-hawe na Dyer-eiland en omstreke. Behalwe die walvisse, wat dikwels die boot volg en die gaste vermaak met skouspelagtige vertonings, kry gaste ook die ander lede van die see se Groot Vyf te sien - dolfyne, pikkewyne, robbe en die indrukwekkende Groot Withaai wat in dié omgewing floreer. Die boot kan tot 20 passasiers met gemak huisves en het ook 'n toilet, sonseile en 'n bodek vir ekstra gerief en die beste uitsig. Verversings en drinkgoed word aan boord voorsien en kundige gidse verskaf interessante en feitelike inligting oor die walvisse en ander seediere. Die walvisse is gewoond aan die bote en swem dikwels nuuskierig nader om die mense van naderby te bekyk. Die vaart duur ongeveer 2 uur en is 'n mariene-avontuur wat nie misgeloop mag word nie!

Walviskyk-toere uit die lug

Min dinge vergelyk met die asemrowende uitsig oor die Walkerbaai-gebied vanuit die lug wanneer tientalle Suidelike Noorkapper-walvisse die water op horings neem. Die gemak en grasie waarmee dié reusagtige diere deur die water klief en bokspring, is veral uit 'n vliegtuig 'n verstommende gesig. Grootbos, in samewerking met African Wings, bied aan gaste die wonderlike geleentheid om dié pragtige kuslyn met sy magdom plante, diere en majestueuse bergreekse uit die lug te besigtig. Die wit, eindelose strande en diverse plantegroei wat die uitgestrekte oseaan begrens, skep 'n skilderagtige panorama wat die asem wegslaan. Die beste tyd om die walvisse te sien, is tussen Julie en Desember wanneer hulle dié gebied opeis as hul verkose speelveld. Dolfyne, robbe, haaie en verskeie visspesies kan ook uit die lug gesien word. Kom geniet die vryheid van die lug saam met ons en verken die geheime van die see vanuit 'n ander oogpunt. 
 
* Die gewilde Walvisfees op Hermanus vind jaarliks in September plaas.