Navrae Hier

Gesondheid in die rondheid - in 'n glas!

Die groter Gansbaai-omgewing spog met 'n hele aantal bekroonde wynlandgoedere waar fynproewers die gesogte vog van die wingerd kan proe, geniet en koop. Die meeste wynplase tussen Stanford, Hermanus, Bredasdorp en Caledon bied ook wyntoere en wynproe-sessies aan.

Kom beproef die Overberg se wyn en bier!

Bierdrinkers kan die bekende Birkenhead Mikro-Brouery buite Stanford besoek vir 'n gastronomiese smaaksensasie en kuiertjie met van die beste bier in die land! Gaste kan ook die Birkenhead-landgoed en wingerde in die skadu van die Kleinrivier-berge besoek waar die bekende Walkerbaai-wyne gemaak word. Die Elim-wynroete tussen Elim en Bredasdorp is die nuutste en mees suidelike wynroete op die Afrika-vasteland. Wynliefhebbers kan kuier-kuier by die spogplase van die vyf wynmakers op die Elim-wynwyk aandoen vir 'n onvergeetlike uitstappie op 'n prag-roete onderweg na die mees suidelike punt van Afrika. Gaste kan ook in weelde oornag op dié wynplase en ware Overberg-gasvryheid en liplekker-etes geniet.

 
Kom ervaar die ryk oeste van die Overberg-grond en die hartlike geselligheid van die mense wat dit bewerk, bewaar en koester!