Navrae Hier
Die Fynbos

Die Kaapse Blomplantstreek is een van die rykste floras ter wêreld. In 'n gebied van slegs 90 000 vierkante km is daar 9 250 spesies blomdraende fynbosplante, waarvan 70% slegs in dié streek voorkom. Fynbos is verreweg die algemeenste plantsoort in die gebied en maak meer as 80% van die totale plantspesies uit. Die gebied sluit ook renosterveld, karooagtige struikveld, ruigtes en woude in. Fynbos is nie net bekend vir sy merkwaardige diversiteit nie, maar ook vir die skoonheid van sy veldblomme. Dit kom in 'n halfmaanvormige gordelstrook aan die suidelike punt van Afrika voor - vanaf Vanrhynsdorp in die noorde, suidwaarts na die Kaapse Skiereiland en ooswaarts tot in Port Elizabeth. Fynbos is hoofsaaklik beperk tot die verspreidingsgebiede van die parallelle sandsteen- en kwartsformasies van die Kaapse Plooiberge en die uitgestrekte sand- en kalksteenstroke langs die kus. Hier floreer dit in grof-gegranuleerde grond wat arm aan voedingstowwe soos stikstof en fosfor is. Fynbos word veral in die Kaapse winterreënvalstreke aangetref, hoewel dit ook floreer in sekere gebiede in die Oos-Kaap wat dwarsdeur die jaar reën kry.

Die hoofrede vir die uitsonderlike diversiteit in fynbos is nie 'n buitengewoon hoë konsentrasie van spesies in 'n bepaalde gebied nie, maar eerder die hoë persentasie van die omset in spesies tussen die gebiede. Dit is die gevolg van die hoë koers waarteen spesies vir mekaar plek maak oor omgewings- en geografiese gradiënte. Wat fynbos dus so merkwaardig maak, is die groot aantal gelokaliseerde spesies wat dikwels beperk is tot 'n enkele, klein gebied van minder as 1 vierkante km. Op Grootbos self word minstens sewe endemiese spesies aangetref.

Fynbos en vuur

Fynbos is 'n vuur-aangepaste plantegroep wat afhanklik is van gereelde brande om voort te plant. In die afwesigheid van vuur, word fynbosvelde stelselmatig ingeneem deur bosruigtes. Fynbos floreer in onvrugbare grond en vuur is die meganisme wat nodig is om kosbare voedingstowwe van dooie plante in die grond te herwin. Brande in fynbosvelde is dus geen ramp nie, maar eerder 'n noodsaaklike sneller wat die fynbos se voortplantingsiklus herprogrammeer. Vuur verskaf die stimulus vir dormante sade om te ontkiem en die geleentheid vir talle eenjariges, meerjariges en bolle om te groei, te blom en saad te skiet in tye van volop voeding en sonlig. Hulle voltooi hulle kort lewensiklus, keer terug na die grond wanneer groter struikgewasse oorneem en bly dormant in die grond tot die volgende brand uitbreek. Die optimale brand-siklus vir fynbos is tussen 10-14 jaar. Korter brand-siklusse kan fynbosspesies wat stadig volwassenheid bereik, heeltemal uitwis, terwyl spesies ook begin uitsterf wanneer die tussenposes tussen brande te lank duur.

Fynbos-bewaring

Die unieke Kaapse flora is onder erge druk weens menslike bedrywighede. Die fynbos in hoërliggende bergstreke is in die algemeen goed beskerm danksy 'n groot reserwe-netwerk wat geskep is om voldoende skoon drinkwater aan die groeiende bevolking te verskaf. Dieselfde geld ongelukkig nie die laerliggende gebiede nie. Eeue van intensiewe boerdery het veroorsaak dat feitlik al die meer vrugbare gebiede uit mono-kulture bestaan. Op die Agulhas-vlakte is sowat 25% van die laagland-fynbos in landbougrond omskep, en die meeste van die oorblywende habitat is deur indringerplante soos die Australiese akasia ingeneem. Die akasia is teen die middel van die twintigste eeu geplant om die strandduine te stabiliseer, maar dit het sedertdien versprei na die fynbos-gebiede waar dit die inheemse plantegroei versmoor en verdring. Boonop is feitlik al die laerliggende gebiede in private besit en net sowat 5 % is amptelike bewaringsgebiede. Ander bedreigings behels die vinnige verstedelikingsproses, veral die ontwikkeling van strandoord-komplekse aan die kus, die dreinering van vleilande, brandstigting en onoordeelkundige blom-oeste. Sosio-ekonomiese faktore vererger die uitwerking van dié bedreigings op die natuur. Die nood van landelike gemeenskappe is geslagte lank geïgnoreer. Armoede heers in die meeste klein dorpies en tot die helfte van die inwoners is werkloos. Grootbos se bewaringsprojekte fokus daarop om plaaslike inwoners te voorsien van 'n volhoubare, natuur-gebaseerde lewensbestaan en terselfdertyd ons unieke natuurlike erfenis te beskerm en tot sy vorige glorie te herstel.

Fynbos op Grootbos
Die Grootbos-span het meer as 'n dekade lank gewerk aan 'n unieke langtermyn-plantstudie - waarskynlik die mees gedetailleerde studie wat nóg in die fynbosstreek gedoen is. Die omvattende plant-opname is oor alle seisoene gedoen en sluit ook alle stadiums van na-brandse plantegroei in. Die laaste telling van geïdentifiseerde en kruie-gekatalogiseerde plantspesies op Grootbos was 'n verstommende 765 spesies in 'n gebied van slegs 1 800 hektaar. Hiervan is 83 bedreigde spesies, terwyl ses nuwe spesies wat nog nie aan die wetenskap bekend is nie, ook hier gekry is. Die noodsaaklike rol wat vuur in die voortplanting van fynbos speel, is letterlik bewys toe die kontrolelys van 680 spesies tot 750 gegroei het ná die reuse-brand op Grootbos in 2006. Altesame 70 nuwe spesies kon dus danksy die brand ontkiem, voortplant en bygereken word in die kontrolelys. Die reservaat huisves 'n wye verskeidenheid plantsoorte, insluitende die erg bedreigde Overbergse kalksteen-fynbos, bedreigde Melkhout-woude, afromontane-woude wat in brandbestande klowe floreer, Agulhas kalksteen-fynbos wat net in die kalksteenrotse van die gebied aangetref word, Overbergse duine-Strandveld langs die kuslyn en vleiland-plantegroei.
 
Nuwe plantspesies wat eerste op Grootbos ontdek en aangeteken is

Die ses nuwe plantspesies wat op Grootbos ontdek en aangeteken is, is die Erica magnisylvae (Ericaceae); die Cliffortia anthospermoides (Rosaceae); die Lachenalia lutzeyeri (Hyacinthaceae); die Pterygodium vermiferum (Orchidaceae); die Capnophyllum lutzeyeri (Apiaceae) en die Capnophyllum lutzeyeri (Apiaceae).  

Meer besonderhede oor dié spesies, asook 'n volledige beskrywing van al die ander plantspesies op Grootbos, is saamgevat in 'n omvattende veldgids. Kontak ons gerus om 'n bestelling te plaas vir die veldgids "FIELD GUIDE TO THE FLORA OF GROOTBOS NATURE RESERVE AND THE WALKER BAY REGION".