Navrae Hier
Die Grootbos-veldgids
Die skilderagtige Grootbos Natuurreservaat met sy asemrowende uitsig oor die Walkerbaai-kuslyn spog met  'n ongelooflike verskeidenheid van pragtige inheemse en bedreigde plante.  ‘n Omvattende lekkerlees-veldgids waarin interessante inligting en feite oor dié verruklike plante-koninkryk noukeurig weergegee word, gee gaste ’n kykie in die bedrywighede en unieke spesies op Grootbos wat dié oord ’n wêreldleier op die gebied van innoverende en volhoubare bewaring in die internasionale toerismebedryf maak.  Die boek is die resultaat van jarelange navorsing, harde werk en wetenskaplike studies om elke plant op die reservaat volledig en in detail te dokumenteer.
 
 
Die Skrywers:
Heiner Lutzeyer

HEINER LUTZEYER het hom in 1953 vanaf Duitsland in Kaapstad kom vestig waar hy 'n nuwe loopbaan in die drukkersbedryf begin het. In dié tyd was hy onder meer ook verantwoordelik vir die druk van verskeie boeke oor natuurlewe, plantkunde en die Kaapse flora. Self 'n geesdriftige buitelugmens en natuurliefhebber, het Heiner menige dae teen die hange van Tafelberg deurgebring om die Kaap se unieke natuurskoon en diverse plantegroei te geniet. Sy passie en liefde vir die Wes-Kaap se eiesoortige plant- en blomspesies sou egter eers jare later in die Overberg tot sy volle reg kom. In 1991 het Heiner en een van sy seuns, Michael, die oorspronklike plaas Grootbos van 123 hektaar aan die hange van die Duynefontein-berge gekoop en 'n familiehuis gebou met 'n asemrowende uitsig oor die hele Walkerbaai-gebied. Pa en seun het aanvanklik nie 'n idee gehad hoe ryk dié omgewing aan inheemse fauna en flora-spesies was nie. Heiner se velduitstappies het spoedig gelei tot grootse ontdekkings en 'n lewenslange stokperdjie waarvoor hy later nasionale erkenning ontvang het. Hy het die wye verskeidenheid van fynbosblomme en plante op Grootbos begin afneem en noukeurige aantekeninge van elkeen gemaak. Dit is grootliks aan Heiner se volgehoue verkenning van die Grootbos-reservaat te danke dat 760 plantspesies reeds gedokumenteer is. Hy het ook verskeie seldsame en bedreigde plantspesies op die plaas ontdek, asook belangrike vertakkings van plantreekse. Twee van die vyf nuwe plantspesies wat hy aan die wetenskap bekend gestel het, die Lachenalia lutzeyeri en die Capnophyllum lutzeyeri is na hom genoem uit erkenning vir sy werk. Heiner se onskatbare bydrae tot die bewaring van die Kaapse flora is in 2008 amptelik bekroon met die gesogte Flora Bewaringstrofee van die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika.

Sean Privett

SEAN PRIVETT is wêreldwyd bekend vir sy omvangryke kennis van en passievolle bydraes tot die bewaring van die Kaapse fynbosspesies. Sy loopbaan het afgeskop met 'n Meestergraad in Botanie wat hy met onderskeiding aan die Universiteit van Kaapstad verwerf het en sedertdien het hy talryke toekennings vir sy veelsydige bewaringsprojekte ontvang - onder meer die wêreld se mees gesogte toekenning vir plantbewaring by die Londense Whitley Toekenningsplegtigheid in 2001. In 1997 het hy hom by die Grootbos Natuurreservaat aangesluit as bestuurder van die talle bewaringsprojekte en saam met Heiner die langtermyn-plantopname van stapel gestuur wat die kern van die Grootbos-veldgids vorm. Vandag bestuur Sean ook die nie-winsgewende Grootbos Stigting in samewerking met die stigter-eienaar, Michael Lutzeyer. Sean het ook 'n leidende rol gespeel in die vestiging van die Green Futures Tuinbou en Lewensvaardighede-program, asook die Growing the Future organiese boerderyprojekte wat albei met groot sukses op Grootbos bedryf word. Daarbenewens het Sean gehelp om die jaarlikse Suid-Afrikaanse Blommeskou by die Eden Projek in Cornwell in die Verenigde Koninkryk te vestig. Hy het ook die volhoubare fynbos-oesprogram vir die Flower Valley Bewaringstrust ontwerp en die voortou geneem om die 12 500 hektaar Walkerbaai Fynbos-bewaringsgebied te vestig.

Dié buitelug- en gesinsman het nie net 'n wye reputasie as leier op die gebied van praktiese, plantgebaseerde bewaringsprojekte nie, maar is ook 'n bekroonde sportman wat al tientalle trofeë vir verskillende sportprestasies verower het -  onder meer twee keer die gesogte Ysterman-trofee in die Wes-Kaapse Skiereiland-afdeling!

 

Waar kan die gids gekoop word?

Belangstellendes wat die Grootbos-veldgids wil koop, kan ons kontak by foundation@grootbos.co.za. Die gids kos R220.00 en die opbrengs is ten bate van die Grootbos Stigting.