Navrae Hier
Green Futures

Die Green Futures Tuinbou- en Lewensvaardighede Kollege op Grootbos bied jaarliks 'n jaar lange opleidingsprogram vir twaalf werklose jeugdiges van die plaaslike omgewing aan. Die kursusse word sedert 2003 aangebied en alle suksesvolle studente het sedertdien werk in die tuinboukunde-bedryf gekry, of hul eie besigheid begin. Dié aanvanklike droom van die Lutzeyer-familie (eienaars van Grootbos Private Natuurreservaat) om ongeskoolde jongmense uit die plaaslike gemeenskap op te lei en van werk te voorsien in fynbos-landskapargitektuur, het alle verwagtinge oortref. Danksy 'n samewerkingsooreenkoms tussen Grootbos en die Duitse Beleggings- en Ontwikkelingsmaatskappy (DEG) kon die kollege 'n geldelike borgskap op 'n rand-vir-rand-basis bekom om oor 'n tweejaar-tydperk die kollege en opleidingsprogram te vestig. Die opleidingsentrum is op Grootbos gebou, 'n span dosente is aangestel, 'n volwaardige leerplan is ontwikkel en die eerste twaalf studente is gekies. Die studente word teoreties en prakties opgelei in 'n wye verskeidenheid aspekte van tuinboukunde, insluitende plant-identifikasie, 'n waardering vir fynbos en die fynbos- ekologie, hoe en hoekom dit bewaar moet word, hoe om dit in plaaslike tuine te gebruik, fynbos-voortplanting en kweekhuis-vaardighede, tuinontwerp, asook tuinaanleg en -instandhouding deur waterbesparende tegnieke. Die afdeling oor lewensvaardighede sluit onder meer noodhulp, syfer- en geletterdheidsvaardighede, geldbestuur en die verkryging van 'n rybewys in. Drie top-studente kry ook elke jaar die kans om die Eden-projek in Cornwell in die Verenigde Koninkryk te besoek en 'n tydjie daar te werk. Al die studente word ook gehelp om waardevolle praktiese ervaring op te doen by Kirstenbosch en die Harold Porter Nasionale Botaniese Tuine. Suksesvolle kandidate ontvang 'n erkende nasionale tuinbou-sertifikaat en word ook gehelp om werk te kry ná voltooing van hul studies. Danksy dié merkwaardige program is tientalle jongmense oor die afgelope agt jaar reeds bemagtig en van 'n beter en volhoubare toekoms verseker.

Growing the Future
Danksy die ongelooflike sukses van die Green Futures-projek het die Grootbos Stigting op Vrouedag in 2009 'n nuwe opleidingsprogram vir vroue geskep. Agt vroue uit die plaaslike gemeenskap word sedertdien jaarliks opgelei in lewensvaardighede en voedselproduksie - hoe om vrugte en groente te plant, byeteelt en die beginsels van 'n suksesvolle byeboerdery.  Die opleidingsprogram behels 30% teoretiese kennis en 70% praktiese ervaring. Die opleiding in voedselproduksie fokus op organiese voedselverbouing en die vroue word opgelei in basiese aspekte van grondwetenskap, grondbemesting en voorbereiding, die plant en instandhouding van groente- en vrugteboorde, pesbestryding en vele meer. Die vroue word ook prakties geleer van informele werfhoender-eierproduksie, vark- en byeboerdery, asook hoe om vrugte in te lê en konfyt te maak. Die lewensvaardighede-program sluit opleiding in basiese rekenaargeletterdheid, boekhouding, geldbestuur, sakebeplanning en MIV/vigs-bewustheid in. Die vroue word voorsien van alle opleidingsmateriaal, vervoer en 'n basiese toelaag vir noodsaaklikhede. Ná voltooiing van die kursus ontvang die suksesvolle studente ook 'n volwaardige vlak 4-kwalifikasie volgens die nasionale stelsel vir volwasse onderwys.
 
Die opbrengs van die vrugte- en groentetuine word aan Grootbos en omliggende organisasies verkoop. Sodoende het Grootbos se twee restaurante dus altyd kraakvars bestanddele uit sy eie boorde en dra die vroue se werk ook by tot die finansiering van hul opleiding.
 
Spaces For Sport

Die stigter van die Grootbos Stigting, Michael Lutzeyer, is 'n man met passie en visie wat daarin glo om tyd en energie te belê in die plaaslike gemeenskap deur volhoubare ontwikkelingsprojekte, herwinning en landwye omgewingsbewaringsprojekte van stapel te stuur. Tydens die aanvoorwerk vir die Wêreldbekersokker-toernooi in 2010 het die gebrek aan 'n volwaardige sportkompleks in Gansbaai hom aangespoor om ook dié behoefte daadwerklik aan te spreek. Op 20 April 2008 is die indrukwekkende Gansbaai Gemeenskapsportkompleks, Spaces For Sport, amptelik op 'n hoë noot deur die destydse Overstandse burgemeester en verskeie hoogwaardigheidsbekleërs, sportlui en borge in die hartjie van Gansbaai geopen.

Die grootse projek is moontlik gemaak deur uitstekende spanwerk en 'n samewerkingsooreenkoms tussen verskillende rolspelers - die Grootbos Stigting, ABSA, Barclays, Overstrand Munisipaliteit, die Barclays Premier-liga en die Wes-Kaapse Departement van Sport en Kultuur. Die sportkompleks sluit 'n pragtige klubhuis, rugby- en sokkervelde, tennisbane, netbalbane, hokkievelde en 'n atletiekbaan in waar jong én ouer sportlui van die gemeenskap professionele afrigting kan ontvang. Danksy die bystand van die English Premier League, is die Football Foundation of South Africa (FFSA) ook in samewerking met die Grootbos Stigting gestig om jeugontwikkelingsprogramme op die terrein aan te bied. Die projek voorsien in 'n noodsaaklike behoefte om jongmense uit verskillende gemeenskappe en agtergronde saam te betrek by sportaktiwiteite. Toegewyde afrigters en vrywilligers rig groepe kinders van 6 tot 19 jaar oud af in sokker, netbal, hokkie, rugby en krieket. Boonop dien dit ook as 'n sportterrein vir die nuwe hoërskool Gansbaai Academia wat in 2010 sy deure langs die sportkompleks geopen het.

Deur dié georganiseerde sportaktiwiteite leer die jeug van Gansbaai noodsaaklike lewensvaardighede, dissipline en respek wat ook hul selfbeeld verbeter sodat hulle met selfvertroue in die gemeenskap kan inskakel. Die kinders geniet wat hulle doen en is boonop in 'n veilige omgewing onder toesig van positiewe rolmodelle. Sport breek grense af en dié projek dra grootliks daartoe by om Gansbaai se jeug te verenig en saam te snoer ongeag agtergrond, ras of geslag.

Future Trees

Die Future Trees-projek is 'n unieke en prysenswaardige spanpoging om die bedreigde Melkhoutwoude en ander inheemse bome op die Grootbos Natuurreservaat te herstel en te beskerm nadat 'n groot deel van die woud in 2006 in 'n verwoestende brand in puin gelê is. Studente van die Green Futures-projek het dadelik die woude begin herstel deur gepaste bome - Melkhout, wit stinkhout, ysterhout en wilde olyfbome - aan te plant. Gaste en bewaringsbewustes kan die projek steun deur 'n boompie te koop en/of self op die reservaat te plant. Tot dusver is meer as 1 000 inheemse bome reeds geplant. Boom-eienaars kan self 'n naam vir hul boom kies en lewenslank die groei en vordering van die boom volg en dophou deur 'n globale posisioneringstelsel (GPS). Dis 'n wonderlike ervaring om jou eie boom te plant en kinders geniet dit ook - veral as die boompie hulle naam dra! Van die bome word 'n volle eeu oud!

Deur deelname aan dié projek word noodsaaklike geld ingesamel vir die verskillende bewaringsprojekte van die Grootbos Stigting en help jy ook om die suurstofbalans in die lug te herstel!

Enige mens, gesin of organisasie kan 'n bydrae van R350 aan die Grootbos Stigting maak om 'n boompie te "koop". Dit sluit die koste daarvan in om die boompie in bemeste grond te plant en tot op 5-jarige ouderdom te versorg. Promise, 'n oud-student van die Green Futures-projek, is verantwoordelik vir die voltydse versorging van die meer as 1 000 bome wat reeds op die reservaat aangeplant is. Boomeienaars ontvang 'n spesiale sertifikaat, word op die Tree Planters-blad gelys en die presiese ligging van die boom word aangeteken en gekarteer sodat jy enige tyd en op enige plek in die wêreld 'n ogie oor jou boomkind kan hou via GPS. 

Kliek hier vir meer besonderhede oor Future Trees!