Navrae Hier

Weelderige Lodges

Spogverblyf in die hartjie van die ongerepte natuur

Grootbos se kenmerkende treffer-kombinasie van eksotiese weelde en aardse gerief is geïnspireer deur die weergalose skoonheid van die natuur wat dié spogoord omring en voed. Die twee vyfster- lodges, 27 luukse-wooneenhede en 'n eksklusiewe villa bied gaste koninklike huisvesting in 'n asemrowende, ongerepte natuurparadys tussen Hermanus en Gansbaai. Idillies geleë tussen fynbos-bedekte berge en die uitgestrekte Atlantiese Oseaan, is dié verruklike oord 'n oase vir natuurliefhebbers wat die opwinding van buitelug-avonture asook weelderige gemak en pamperlang soek. 'n Magdom begeleide en onbegeleide uitstappies op land, see en lug wag op gaste en reisigers wat hier kom ontspan of 'n rusplek soek op hul roete tussen Kaapstad en die Tuinroete. Kom verken die ongetemde hart van die Overberg in styl!

 

Forest Lodge

Die Lodge en 16 luukse wooneenhede is geanker in 'n eeu-oue Melkhoutwoud teen die hange van die Duynefontein-berge en bied asemrowende uitsigte oor Walkerbaai en die Gansbaai-kuslyn.

Garden Lodge

'n Pragtige rietdak-oase van klip en hout met 'n sterk Afrika-invloed, genestel in 'n kleurryke blomparadys met panoramiese uitsigte oor berg en see. Die lodge en elf weelderige wooneenhede is ideaal vir gesinne.

Villa

Die jongste toevoeging tot die Grootbos-spogkompleks. Dié villa rus hoog teen die hange van die Duynefontein-berge en spog met 6 elegante wooneenhede.