Navrae Hier
Kos vir liggaam en siel
Kos en etes by Grootbos is veel meer as 'n verruklike proe- en smaaksensasie in 'n skilderagtige omgewing - dis 'n kombinasie van eksotiese gewaarwordinge wat al die sintuie kielie en jou totaal oorrompel.
 
Op dié pragtige reservaat met sy panoramiese uitsigte oor berge, see en blomryke fynbosvelde, word kos met dieselfde respek en passie behandel as die omliggende natuur waaruit dit voortspruit. Hoofsjef Duane Lewis en sy span geesdriftige kosfoendi's gebruik feitlik net plaasvars produkte uit Grootbos se eie groente- en kruietuine om die gastronomiese geregte op te tower waarmee hulle selfs die mees kritiese fynproewers verras.
 
Ons Restaurante - Red Indigo en Garden Restaurant

Die ligging en treffende argitektuur van die twee restaurante op die spoglandgoed - die Red Indigo en die Garden Restaurant - gee reeds 'n voorsmakie van die spyse en sielskos wat 'n mens hier kan verwag. Albei restaurante is ontwerp om die ongelooflike uitsigte en gevoel van lig en vryheid van die omliggende natuur te weerspieël en te beklemtoon. Hoë houtplafonne en alkant-vensters skep 'n gevoel van ruimte asof jy deel is van die malse blom- en plante-prag rondom jou. Gesellige kaggels en sagte beligting verleen warmte en 'n romantiese atmosfeer in die winter, terwyl groot stoepe en 'n swembad gaste in die somer buite hou om die asemrowende uitsigte oor Walkerbaai in te drink.

Ons kokke

Duane en sy span van 20 jong, kreatiewe kokke spesialiseer in 'n wye verskeidenheid van liplekker tradisionele geregte met 'n eksotiese kinkel. Duane het wye ervaring van die internasionale kookkuns oorsee opgedoen en het 'n natuurlike talent om geure, kleure en teksture te kombineer om sy eie unieke treffer-geregte te skep. Sappige bief-filette, gebraaide eendlewertjies met ingelegde koemkwat, koljander-gegeurde donkersjokolade en ander watertand-lekkernye word keurig berei en bedien om in almal se smaak te val. Om seker te maak die unieke geur van elke bestanddeel kom tot sy reg, gebruik Duane net vars produkte, waarvan die meeste op Grootbos of omliggende plase verbou of gemaak word. Dit sluit kruie, olyfolie, heuning en vars plaaseiers van Grootbos se eie werfhoenders in. Die wye verskeidenheid vars vrugte en groente wat daagliks bedien word, kom ook grootliks van Grootbos se eie boorde.

Growing the Future-projek

Dié wêreld-bekroonde toerisme-oord is bekend vir die pionierswerk en leidende rol wat dit op internasionale gebied speel om vyfster-toerisme en gerief volhoubaar te kombineer met verskeie natuurbewaringsprojekte en maatskaplike opheffingswerk.

Die Green Futures-projek is jare gelede deur die Grootbos Stigting van stapel gestuur om werklose mense in die omgewing op te lei in tuinboukunde, omgewingsbewaring en lewensvaardighede. Die Growing the Future-projek is daarna op dieselfde beginsel aangepak om jaarliks agt werklose vroue van die gemeenskap op te lei om groente, kruie en vrugte vir Grootbos se eie kombuis te kweek. Die projekte is almal gemik op werkskepping, opleiding en natuurbewaring deur werklose mense te bemagtig om die natuur te help bewaar deur die ontbossing van uitheemse plante en bome, nuwe inheemse plante en bome te plant, heuningboerdery en organiese voedselproduksie. Die studente word almal geborg en kry gratis vervoer, gereedskap, uniforms, studiemateriaal asook ’n weeklikse loon om in hul daaglikse behoeftes te voorsien. Om die projek volhoubaar te maak en nie net op borgskappe en skenkings te steun nie, word die produkte regstreeks aan Grootbos, en in 'n mindere mate aan ander instansies, verkoop om die koste te delg. Op dié manier dra die studente ook prakties by tot die koste van hul eie opleiding. 

Kraakvars bestanddele uit die Overberg

Die Grootbos restaurante se vleis en vis kom ook vars van die Overberg en Gansbaai se eie viswaters. By Grootbos kan gaste dus reken op fynproewer-geregte berei van kraakvars bestanddele uit die Overberg se boesem.

Kom ontspan by die Red Indigo of Garden Restaurant en geniet vyfster-kookkuns en uitsoek-wyn uit Grootbos se eie kelder in 'n prentjiemooi omgewing waar brekende branders en asemrowende sonsondergange 'n weergalose dekor verskaf.