Navrae Hier

'n Nostalgiese kykie in vervloŽ dae

Die Klipgat-grotte langs De Kelders neem 'n mens terug na pre-historiese tye toe die eerste oermense rustig in harmonie met die natuur gelewe het lank voordat die see die Walkerbaai-kuslyn gevorm het.
 
Argeologiese uitgrawings dui daarop dat die eerste Homo Sapiens reeds in die Middel Steentydperk sowat 70 000 tot 80 000 jaar gelede in dié grotte skuiling gesoek het teen die elemente toe grootwild soos swartwildebeeste en die uitgestorwe "blaauwbok" nog vryelik in die omgewing gewei het. 
 
Dié primitiewe mense het hoofsaaklik van plante en kleiner diertjies soos duinemolle, skilpaaie en hase geleef, maar het ook hul dieet aangevul deur steenbokkies, elande, seevoëls, skulpvis en robbe te jag. 
 
Die naam Klipgat-grotte is afkomstig van die merkwaardige openinge in die kalksteen-rotsformasies wat soos vensters 'n panoramiese uitsig oor die hele Walkerbaai-kuslyn bied. Die grotte is vandag een van die belangrikste kulturele erfenisgebiede in die Wes-Kaap en ook van internasionale erfenisbelang. 
 

Tuiste van die eerste oermense

Die uitgrawings onthul nie net interessante feite oor die lewe, lief en leed van ons vroegste voorouers nie, maar bied ook waardevolle insae in die getye, temperature en lewensomstandighede van daardie tye. Dit is reeds bewys dat die see in daardie jare etlike kilometers van die huidige Walkerbaai af was.
 
Ander vondse dui daarop dat veewagters, vermoedelik die Khoi-Khoi, in die Later Steentydperk (sowat 2 000 jaar gelede) reeds skape, en vermoedelik selfs beeste en honde, aangehou het. Dit is van die vroegste bewyse van gemeenskap-huishoudings soos ons dit vandag ken. Hulle het gereedskap soos naalde en slaplemmesse uit been gekerf om kunstige ornamente, versierings en skulpkrale te maak. Volstruiseiers is in waterflesse omskep en skilpaddoppe het as kosbakke gedien.
 
Hierdie artefakte en beenmonsters word in die Iziko Suid-Afrikaanse Museum bewaar en ten toon gestel. Ongelukkig is die geheime en die meeste bewyse van die daaglikse lewe van dié oermense vir ewig in 'n watergraf begrawe. Die laaste oorlewendes van dié era is in 1713 in 'n dodelike pokke-epidemie uitgewis.
 
Die omgewing in en rondom die Klipgat-grotte is versterk en opgeknap en word as 'n gewilde toerisme-bestemming deur die Kaapse Natuurbewaring bestuur. 
Kom verken die vergange tuiste van die mens se vroeë voorouers saam met ons spesialis-gidse en herleef die wel en weë van die mense wat in 'n vervloë era gelewe het.